Maak ’n groot okkasie daarvan as kinders “groot genoeg” is om ’n eie bedlampie te kry sodat hulle ook saans — ná storietyd — vir ’n klein rukkie tjoepstil mag lê en “lees” (boekies deurblaai). Wie kan nou in elk geval net “woeps” aan die slaap raak as Mamma sê dis nou tyd? En as jy aand-na-aand uit jou warm bed moet klim om sélf die liggie te gaan afsit en die boek uit daardie warm handjies te wikkel, koester dan daardie oomblik in die wete dat jou kind nie net bloot aan die slaap geraak terwyl hy of sy “lees” nie. Hulle het van die een droomwêreld ingeglip na die volgende een. En dís mos fantasties!
Daar bestaan nie iets soos ’n kind wat nie van boeke “hou” nie. As hy of sy nie van boeke “hou” nie, het hulle bloot net nog nie die regte boek in die hande gekry nie. As die kind hou van sport, koop sportboeke, as sy hou van ballet, koop dansboeke, as hy mal is oor drake, koop diereboeke.
’n Liefde vir lees word gekweek deur voorlees van babatyd af. Maak daardie storietyd ’n spesiale tyd. Maak snaakse stemme, groot oë, fluister — hou konsert. Jy hoef nie altyd te lees nie. Dink sommer partykeer jou eie stories uit. Kinders moet weet: stories is wonderlike goed!
Kleuters is mal oor rympies, veral as dit nog snaaks is daarby. Sodra hulle dit begin herken, wag ’n rukkie voordat jy die laaste woord van elke sin sê en kyk of die kind dit self kan sê.
Letterspeletjies in die motor is groot pret. Dit leer kleuters om solank die alfabet onder die knie te kry, voordat hulle skool toe gaan. Vra hulle om ’n woord te sê wat begin met A, B, D ensovoorts. Later kan julle vorder na woorde wat rym met “kat”, “mat” ensovoorts. Groter kinders kan “teenoorgesteldes” gevra word. Of, maak storiebeurte: een begin met ’n storie, en elkeen kry ’n kans om aan te las.